Dronk Jan Blohm huil en vloek by vertoning
2010-04-10 06:56
Johannesburg - “F*k julle almal, ek sing nie verder nie. Julle is ’n klomp f****rs.”
So het die rocksanger Jan Blohm, ’n selferkende alkoholis, sy vertoning by Cofi in die Kolonnade-winkelsentrum in Montanapark, Pretoria, Donderdagaand afgesluit.
Woedende aanhangers van Blohm het Beeld gister gebel en op Facebook en die sanger se webwerf gekla oor sy “teleurstellende” vertoning nadat hy die een bier ná die ander weggesluk het.
Die vertoning het boonop ’n halfuur laat begin.
“Ek kon nie glo iemand kan so baie bier drink nie. Daarna het hy gestrompel verhoog toe, het hy amper vooroor geval en was hy nie in staat om self sy kitaar op te tel nie,” het ’n ontstoke aanhanger gesê.
Volgens hom het Blohm begin huil terwyl hy in kru taal ’n “tirade” gelewer het oor die Afrikaner wie se vroue en meisies verkrag word.
“Hy het vertel die ABW (nie die AWB nie) het aan hom ’n brief geskryf. Ek het skaam gekry toe hy na homself as ’n Afrikaner verwys,” het die leser gesê.
Op Blohm se webwerf is daar na hom verwys as ’n “pateet” wat sy ongelooflike talent weggooi deur die “teleurstellende en rampspoedige” vertoning wat hy gelewer het.
Agterna het drie aanhangers probeer om die gehoor met Blohm se kitaar te vermaak.
Mervin Müller, mede-eienaar van Cofi, het gesê hulle het die geld teruggekry wat hulle vir Blohm se vertoning betaal het en die sanger het hulle om verskoning gevra.
“Ek verstaan hy gaan tans deur ’n slegte tyd. Cofi distansieer homself van Blohm se gedrag en van die uitlatings wat hy gemaak het.
Ek het begrip daarvoor dat ons klante uiters ongelukkig was oor die voorval en hulle kan die geld wat hulle vir die vertoning betaal het, by Cofi kom terugeis.”
Blohm het verlede jaar ’n Vonk-toekenning vir sy album Sewe jaar gewen. Dié album is ook vir ’n Sama-toekenning as beste rockalbum benoem. Die wenners word volgende week aangekondig.
Zinta van der Merwe, Blohm se verloofde, het die voorval bevestig en gesê sy keur nie sy gedrag goed nie. Sy was nie by die vertoning nie, maar het gehoor wat daar gebeur het.
“Hy voel verskriklik sleg daaroor en glo sy loopbaan is verby ná een aand se terugslag. Hy is baie depressief en verstaan dat sy aanhangers teleurgesteld is.”
Volgens Van der Merwe is Blohm die afgelope twee jaar uiters gefokus in sy werk.
“Dit is nie meer ’n gereelde ding nie. Donderdag was net vir hom ’n bitter moeilike dag en hy was ontsteld. Dit is die eerste keer in meer as twee jaar wat so iets by een van sy vertonings gebeur,” het sy gesê.
Ook Lydia Winchester, wat Blohm se besprekings hanteer, het die voorval bevestig.
Blohm was nie beskikbaar vir kommentaar nie.
- Beeld