Dokumentêr oor Michael Jackson se toer opgeveil
2011-11-15 12:47
Los Angeles – ‘n Dokumentêr van die ontslape Koning van Pop, Michael Jackson, wat nog deur niemand gesien is nie, gaan opgeveil word.
Die dokumentêr, wat beeldmateriaal van Jackson se Dangerous World Tour in 1992/1993 en bevat, sal na verwagting vir ongeveer £4 miljoen (sowat R51 miljoen) opgeveil word.
Die film is deur 'n dokumentêre span vasgelê. Jackson was glo baie ongelukkig met die eindproduk en het die filmmakers afgedank en die enigste bestaande kopie aan ‘n onbekende chauffeur gegee, wat dit nou wil verkoop.
Die chauffeur, wat beweer Jackson het die dokumentêr aan hom gegee as ‘n “beloning” of “bonus” omdat hy met hom rondgery het, het die film tot Jackson se dood in Junie 2009 geheim gehou, toe hy ‘n kort video-uittreksel op YouTube geplaas het.
Jackson se platemaatskappy en prokureurs het probeer om die eksklusiewe regte vir die dokumentêr te bekom, maar ‘n regter het in die guns van die chauffeur besluit en gesê dit was ‘n geskenk. Die regter het wel gesê die chauffeur mag nie enige kopieë maak nie.
Die dokumentêr van twee ure lank lok baie belangstelling omdat dit beeldmateriaal bevat van wat agter op die verhoog tydens Jackson se vertonings gebeur.
Daar is ook beeldmateriaal van Jordy Chandler, wat die sanger van kindermolestering aangekla het, voordat hy en sy ouers buite die hof geskik het.
Ted Owen, uitvoerende hoof van Fame Bureau afslaers, sal verantwoordelik wees vir die veiling.
– Bang Showbiz.
– Volg Nuus24 op Twitter.