Dokumentêr oor Michael Jackson se toer nie opgeveil
2011-11-28 23:15
Londen – ‘n Dokumentêr van die ontslape Koning van Pop, Michael Jackson, wat nog deur niemand gesien is nie, is nie opgeveil nie.
Daar was verwag dat die beeldmateriaal van Jackson se Dangerous World Tour in 1992/1993 Saterdag in Brittanje vir ongeveer £4 miljoen (sowat R51 miljoen) opgeveil sou word.
“In hierdie stadium is dit nog nie verkoop nie,” het ‘n woordvoerder vir The Fame Bureau-afslaers gesê.
“Ons is steeds in gesprekke met mense, maar dit het nie aanlyn verkoop nie.”
Volgens die woordvoerder is hulle vol selfvertroue dat ‘n koper wel gevind sal word, alhoewel mens nie sekerheid kan hê nie.
Die afslaers moes voordat die bieëry aanlyn begin het, ‘n kort video-uittreksel van hul webwerf verwyder nadat Jackson se platemaatskappy ‘n kopiereg bewering gemaak het.
Die feit dat ‘n suksesvolle koper nie geregtig is om die film vir kommersiële doeleindes te gebruik nie het dalk die aanvraag na die dokumentêr verminder.
Die film is deur 'n dokumentêre span vasgelê. Jackson was glo baie ongelukkig met die eindproduk en het die filmmakers afgedank en die enigste bestaande kopie aan ‘n onbekende chauffeur gegee, wat dit nou wil verkoop.
Die chauffeur, wat beweer Jackson het die dokumentêr aan hom gegee as ‘n “beloning” of “bonus” omdat hy hom rondgery het, het die film tot Jackson se dood in Junie 2009 geheim gehou, toe hy ‘n kort video-uittreksel op YouTube geplaas het.
Jackson se platemaatskappy en prokureurs het probeer om die eksklusiewe regte vir die dokumentêr te bekom, maar ‘n regter het in die guns van die chauffeur besluit en gesê dit was ‘n geskenk. Die regter het wel gesê die chauffeur mag nie enige kopieë maak nie.
Die dokumentêr van twee ure lank lok baie belangstelling omdat dit beeldmateriaal bevat van wat agter op die verhoog tydens Jackson se vertonings gebeur.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters