Doherty in arres oor dwelmdood
2010-03-23 07:42
Londen - Die Britse rocksanger Pete Doherty (31) is in hegtenis geneem in verband met die dwelmdood van die bekende erfgenaam en rolprentmaker Robin Whitehead (27).
Whitehead is die kleindogter van oorlede Teddy Goldsmith, stigter van die tydskrif The Ecologist.
Haar lyk is op 24 Januarie vanjaar in ’n woonstel in Hackney, Londen, gekry, het die Britse koerant Daily Telegraph berig.
Sy is vermoedelik aan ’n oordosis dwelms dood.
Doherty, wat self ’n verlede van dwelmmisbruik het, is Vrydag in hegtenis geneem.
Hy is een van vier mense wat deur die polisie ondervra en daarvan verdink word dat hulle Whitehead die dwelms gegee het waaraan sy uiteindelik dood is.
Die Telegraph berig Doherty, van die rockgroep Babyshambles, is op borgtog vrygelaat en sal in April verder ondervra word.
Sy vriend Peter Wolfe (41), wat op Whitehead se lyk afgekom het, is ook in hegtenis geneem vir ondervraging.
Doherty het in reaksie op Whitehead se dood gesê hy is “geskok en hartseer”.
- Beeld