District 9 vat SA lokette oor
2009-08-30 12:04
Henry Cloete
Kaapstad – Suid-Afrikaners het plaaslike rolprentteaters behoorlik binnegeval om District 9, ’n fliek oor ruimtewesens in Johannesburg, te sien.
Sowat 703 000 mense het Vrydagaand, die openingsaand, na die fliek gaan kyk. Dit maak District 9 al op sy openingsdag die no. 1-kaart-jieverkoper in Suid-Afrika, sê me. Helen Kuun van Ster-Kinekor-verspreiding.
Die fliek, wat vervaardig is met die relatief klein begroting van $30 miljoen en sonder enige bekende akteurs, was ook in die VSA no. 1 by die loket toe dit daar geopen het.
“Ons is baie tevrede en sien uit na Maandag, wanneer die hele naweek se syfers beskikbaar sal wees,” sê me. Corlize Luttig, bemarkingsbestuurder van Ster-Kinekor.
District 9 is die geesteskind van die 29-jarige Suid-Afrikaans gebore regisseur Neill Blomkamp.
Dit speel af in Johannesburg waar ruimtewesens in ’n plakkerskamp ingedwing word nadat hul ruimteskip bo dié stad tot stilstand gekom het.
– Rapport