District 9 'n treffer
2009-09-01 10:21
Johannesburg – Die wetenskapfiksie District 9 het sowat R2 miljoen rand in sy openingsnaweek in Suid-Afrika ingehark, het die koerant, Beeld, Dinsdag berig.
Corlize Luttig, die bemarkingsbestuurder van Ster Kinekor, het gesê dit is die meeste wat ‘n rolprent met ‘n ouderdomsbeperking van 16 in een naweek in Suid-Afrika verdien het sedert die film The Passion of the Christ in 2004 uitgereik is.
"Rolprente met ‘n hoë ouderdomsbeperking skop gewoonlik maar stadig af en dit is soms moeilik om teaters vol te maak. Wetenskapsfiksies is ook nie almal se gunsteling nie”, het Luttig gesê.
District 9 het wêreldwyd reeds sowat R714 miljoen gewerf en was die top rolprent is sy openings naweek in die VSA, Australië, Rusland en Nieu-Seeland.
Volgens Luttig is dit tien teen een ‘n kombinasie van patriotisme en die rolprent se sukses oorsee wat Suid-Afrikaanse toeskouers gelok het.
"Mense is onder die indruk dat ‘n rolprent wat plaaslik vervaardig word nie van goeie kwaliteit is nie, maar omdat dit so goed oorsee gedoen het, het dit mense oortuig dat die film op internasionale standaarde is”, het sy gesê.
Die rolprent vertel die storie van ruimtewesens wat in Johannesburg woon en hoe owerhede besluit om hulle te verskuif na ‘n ander distrik genaamd Distrik 10.
- Sapa