Dís hoe Joost die waarheid vertel het
2009-11-06 11:06
Dié rubriek is oorspronklik in The Daily Maverick, 'n nuus- en inligtingwebwerf wat onlangs gestig is, met 'n spesiale fokus op sakenuus en politiek, gepubliseer.
David Gemmell
Op 21 Maart 2009 het The Weekender 'n onderhoud met Joost van der Westhuizen publiseer. 'n Paar dae nadat dit verskyn het, het Joost my gebel om dankie te sê. Hy het gesê hy is verbaas dat niks aangepas is nie en dat die finale kopie verskyn net soos wat ons afgespreek het. Ek was verbaas omdat hy verbaas was.
Twee weke later het Joost my weer gekontak. Hy het my gevra of ek sou belangstel om 'n boek saam met hom te skryf. Dit was amper soos Madonna wat my bel en 'n privaatvertoning aanbied. Wel, nie eintlik nie, maar jy weet wat ek bedoel.
Ek moes die entoesiastiese, oordrewe aanvaarding wat in my opbou tot bedaar bring, want tydens my navorsing oor Joost vir die sport-onderhoud het ek uitgevind dat Edward Griffiths reeds sy biografie (tot 1998), getiteld Joost: For love and money, geskryf het. Asof ek gereeld oorval word met versoeke om boeke oor legendariese skrumskakels te skryf, het ek onpartydig ondersoek ingestel oor hoekom hy so gou na Ed se boek 'n nuwe een wou hê.
Sy reaksie was dat daar sedert 1998 baie dinge in sy lewe gebeur het wat ontbloot moes word; hy het gedink 'n boek sou die beste manier wees om dit te doen. Ek het gesê as hy iemand soek wat sy onbesonnenheid gaan goedpraat – 'n duidelike, maar indirekte verwysing na die berugte video – dan is ek nie die man wat hy soek nie.
"Nee," het Joost gesê, "ek sal jou goed vertel wat jou oë sal laat traan. Met verwysing na die video, dit sal in die laaste hoofstuk wees, en dit gaan almal uit die veld slaan."
Ek het 'n voorliefde om uit die veld geslaan te word, so natuurlik was ek in. Maar ten spyte van dié belofte dink ek nie die rugbylegende het 'n deurdagte besluit geneem deur sy betrokkenheid in die video te erken nie.
Ek is nie seker hoe hy gedink het hy gaan my verras nie, maar ek is oortuig daarvan dat hy gehoop het dat by die tyd wat ons aan die einde van die boek kom, ek en hy tussen ons 'n manier sal vind om rondom die hele ding te kom eerder as om hom te ontmasker.
Dit was ook nie my bedoeling om hom te konfronteer of daarop aan te dring dat hy skuldig pleit nie. Ek dink ons albei het geweet dat daar een of ander tyd rekenskap tussen ons sou wees.
Net so veel soos ek gevlei was om sy biografie te skryf, het ek geweet ek kan nooit my naam aan iets koppel wat 'n leuen is nie. Net so het ek gehoop dat dit nie hy in Die Video is nie, maar ek het geweet ek moes op een of ander manier vasstel of dit wel hy is, of nie.
Die tyd het aangebreek en ek het Marlize von Emmenis, die meisie in Die Video, in die hande gekry. Ongelukkig het sy alles wat ek gehoop het sy sou nie bevestig nie, bevestig, en ek het besef 'n konfrontasie met Joost sou volg.
Dit was nie aangenaam om iemand, van wie ek teen daardie tyd baie gehou het, te sê hy is 'n leuenaar en dat daar net een pad vorentoe is nie. Maar tot my verbasing het ek gevind dat dit vir hom amper 'n verligting was, iets waarvoor hy gewag het. Ons albei sou seker die maklike uitweg verkies, maar ons kon nie van die feite weghardloop nie. Die enigste uitweg vir hom was om uiteindelik die waarheid te praat.
Of ek hom sou beïnvloed om te bieg en of ek net die katalisator was waarvoor hy gewag het om die regte ding te doen, hy moes dit self doen. Hy moes 'n besluit neem om hom voor sy vrou, ouers, skoonouers, broers, vriende en ondersteuners te verneder.
Noudat alles in die openbaar is en hy op radio en televisie verskyn het, het ek eerstehands gesien hoe aaklig en moeilik dit vir hom was. Hopelik het hy uit dié ervaring geleer. En hopelik sal die meer sensasionele kant van die media hom nou uitlos.
– David Gemmell is die skrywer van Joost: The Man In The Mirror, nou beskikbaar in elke boekwinkel wat ooit deur 'n rugbyaanhanger besoek is.