Die Oprah-evangelie
2011-04-24 10:25
Kaapstad - Glo jy in die evangelie van Oprah?
’n Professor in godsdiens aan die Yale-universiteit in Amerika wat elke episode van The Oprah Winfrey Show die afgelope 12 jaar bestudeer het, sê in ’n nuwe boek die geheim van haar sukses is dat sy haar in ’n godsdiens-ikoon getransformeer het.
Prof. Kathryn Lofton skryf in Oprah: The Gospel of an Icon die kletskoningin het haar massiewe gewildheid en invloed gevestig deur die taal en handelinge van tradisionele godsdiens te gebruik. Daardeur is haar kletsprogram in ’n soort godsdiens omskep.
Volgens Lofton het dit in 1994 gebeur – dieselfde jaar wat die SABC Oprah begin uitsaai het.
Lofton sê haar navorsing – sy het 1 560 episodes se transkripsies, 105 uitgawes van O, The Oprah Magazine , 17 uitgawes van O at Home, 68 Oprah-boekklub-keuses en 52 nuusbriewe bestudeer – wys Winfrey verkondig sedert 1994 doelgerig en deurlopend “die evangelie van jou”.
Dit is die ontdekking van jouself as die begin van verandering in jouself en in die wêreld.
* The Oprah Winfrey Show eindig op 25 Mei in Amerika. SABC3 saai nou vyf episodes per week uit om in te haal vir die groot gons-einde wat voorlê.
Volg Nuus24 op Twitter
- Rapport