Die ObzFest is terug
2010-11-30 14:41
Kaapstad – Na ‘n jaar van refleksie en herbeplanning is die ObzFest terug en dié jaar kan besoekers ‘n hele nuwe, beter fees verwag.
Observatory in Kaapstad het nog al die jare die begin van somer met ‘n straatfees in Laer Hoofstraat gevier.
Die fees het ongelooflik gewild geraak, maar terselfdertyd effens handuit geruk.
Dié jaar het organiseerders egter nuwe lewe in die fees geblaas en musikante en kunstenaars genader om die gebeurtenis 'n nuwe kleur te gee.
Verwag dus vanjaar nie net ‘n feestelike atmosfeer met kosstalletjies en ‘n straatmark nie, maar ook top- kunstenaars soos Steve Newman, The Rudimentals, Hot Water, Taxi Violence, Tim Parr, Hilton Schilder en Tauriq Jenkins (Shakespeare voorlesings), Rebecca Barnett (Vioolspeler van die VSA) en D Major (R&B-musikant uit Kenia).
Die jaar het organiseerders ook besluit om ewe veel aandag aan teateropvoerings en films te skenk.
Terwyl daar ‘n hele paar kwaliteit teateropvoerings in verskeie plekke gaan plaasvind, sal daar ook ‘n dokumentêre film-fees in ObzCafé gehou word.
Besoek www.observatoryfestivalofarts.com vir meer besonderhede oor die verskeidenheid optredes wat dié jaar se fees in ‘n ander klas plaas.
Volg Nuus24 op Twitter.