Die Antwoord op Letterman
2012-02-06 07:02
Johannesburg – Die Suid-Afrikaanse zef-rappers van die Kaap, Die Antwoord, is genooi om vanaand op die gewilde Amerikaanse TV-geselsprogram The Late Show with David Letterman te verskyn.
Die program sal in die komende weke in Suid-Afrika uitgesaai word. Hulle deel die kollig met die voormalige Buffy the Vampire Slayer-ster Sarah Michelle Gellar.
Dit is die groep se eerste verskyning op die program. Hulle is die musiekgaste en gaan hul nuwe CD, Ten$ion, bekend stel.
“Dis moeilik om te sê hoekom Amerikaners so baie van ons hou,” het Ninja, hoofsanger, aan Die Burger gesê.
Volgens hom verskil Suid-Afrikaanse gehore baie van dié oorsee. Een van die dinge wat Amerikaners baie anders maak, is hulle verstaan nie Afrikaanse vloekwoorde nie.
Hy sal op die Letterman-program net kan sê wat hy wil en die kykers sal nie verstaan nie, het hy gesê.
Die Antwoord-koors loop hoog in Amerika. Ninja en Yo-Landi Vi$$er is die gesig van die mode-ontwerper Alexander Wang se nuwe reeks T by Alexander Wang, en daar is groot reklameborde in New York van dié twee.
Voor hul vertrek het Die Antwoord Saterdag in Pretoria in ’n stampvol Arcade Empire opgetree om hul nuwe album bekend te stel.
– Volg Nuus24 op Twitter