Design Indaba begin vandeesmaand
2012-02-10 08:02
Kaapstad – Die negende jaarlikse Design Indaba, een van Suid-Afrika se voorste toonvensters vir kuns en ontwerp, vind vanjaar van 29 Februarie tot 4 Maart in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum plaas.
Meer as 210 deelnemers, waarvan ’n kwart die eerste keer hul ontwerpe sal wys, sal hul kreatiwiteit toon in uiteenlopende velde wat wissel van kunsvlyt, meubelontwerp, juweliersontwerp en film, tot publikasies, nuwe media, argitektuur en grafiese ontwerp.
Volgens Kelly Berman, bestuurder van die Design Indaba, sal die room van Suid-Afrikaanse ontwerp te sien wees. Modebewustes kan uitsien na tien modeparades per dag, met nuwe reekse deur Amanda Laird Cherry, Suzaan Heyns, Lunar, Magents, Coast & Koi, Good Clothing, Ministry of Style, Silverspoon, Selfi en Mosewamosa.
Daar sal ook werksessies vir kinders wees.
Onder die sprekers by die konferensie tel verteenwoordigers van die bekroonde United Visual Artists, ’n Londense kuns- en ontwerppraktyk.
Van die voorste kreatiewe denkers van oor die wêreld sal op die konferensie hul gedagtes oor ’n verskeidenheid onderwerpe deel.
Die Design Indaba sal van 2 tot 4 Maart vir die publiek oop wees. Bespreek by Computicket.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger