Depeche Mode kondig wêreldtoer aan
2012-10-24 10:31
Parys – Depeche Mode het Dinsdag aangekondig dat hulle op ‘n wêreldtoer sal gaan wanneer hulle nuwe album volgende jaar vrygestel word.
Die groep gaan in 25 Europese lande optree, en sal daarna ook in Noord-Amerika toer.
Die Britse trio, wat laas in 2010 saam opgetree het, se toer sal op 7 Mei, 2013 in Tel Aviv afskop, waarna hulle 34 vertonings oor Europa sal lewer.
Dave Gahan, Martin Gore en Andy Fletcher verwag om voor sowat 1,5 miljoen ondersteuners te speel.
“Ons gaan ook opwarm-vertonings lewer, maar het nog nie besluit waar nie,” het Fletcher tydens ‘n mediakonferensie in Parys gesê.
Die groep gaan ook volgende jaar hulle 13de album bekend stel, die eerste album sedert Sounds of the Universe in 2009.
“Dit is altyd lekker om musiek op te neem. Basies lag ons net die heeltyd en doen waarvoor ons lief is; dit is ‘n wonderwerk dat ons dit nog kan doen,” het Gore gesê.
Depeche Mode het sedert 1979 al 100 miljoen albums wêreldwyd verkoop.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP