Meyer se '7 dae' topverkoper binne 14 dae
2011-11-20 08:56
Kaapstad – Net twee weke nadat 7 dae, die nuwe spanningsroman van die skrywer Deon Meyer, bekendgestel is, is dit Suid-Afrika se fiksie-topverkoper.
Dit beklee die no. 1-plek op die Nielsen-lys van boekverkope en sowat 52 000 eksemplare is reeds gedruk.
’n Bykomende 12 000 het pas van die drukker gekom nadat die eerste oplaag van 40 000 uitverkoop is, het Etienne Bloemhof, Meyer se uitgewer by NB Uitgewers, Vrydag gesê.
Dit is buitengewoon baie eksemplare van ’n boek om in so ’n kort tydjie gedruk te word, sê Bloemhof.
Gewoonlik wissel die gemiddelde eerste drukoplaag van boeke tussen 10 000 en 15 000. Meer as 30 000 eksemplare van 7 dae is vooraf bestel. Die boek is op 7 November bekendgestel.
Meyer is verreweg Suid-Afrika se top-misdaad-en-spanningsverhaalskrywer.
Sy Thirteen Hours (die vertaling van 13 uur) het in Oktober die gesogte internasionale Barry-prys vir die beste spanningsverhaal van 2011 gewen.
Meyer het aan Rapport gesê hy begin op Nuwejaarsdag ’n nuwe boek skryf, “wat ’n paar ‘ander’ karakters gaan hê”.
Sy boeke is al in 25 tale vertaal en die rolprentregte van drie is verkoop.
Daleen van der Merwe, uitgewer van Kom eet!, die nuwe kosboek van Meyer en sy vrou, Anita, het gesê dié boek verkoop uitstekend.
“Dit is saamgestel uit die resepte wat die gesin gewoonlik in die huis gebruik. Die kos daarin is tipies soos Suid-Afrikaners eet: Ryk, lekker en romerig.”
Oor die herrie wat losgebars het oor beweerde plagiaat van resepte van die Sarie Kos-redakteur, Barbara Joubert, het Van der Merwe gesê “die Meyers verdien nie hierdie derms uitryg nie”.
Volg Nuus24 op Twitter
- Rapport