Demi Lovato klaar met rehabilitasie
2011-02-02 14:51
Los Angeles - Die tienerster Demi Lovato is uiteindelik klaar met rehabilitasie, maar of sy gaan terugkeer werk toe is onseker.
Die aktrise en sangeres, wat die hoofrol in Sonny with a Chance vertolk, het einde verlede jaar haarself laat opneem in 'n onbekende rehabilitasiesentrum om te help met emosionele en fisieke probleme.
Die 18-jarige is glo weer tuis in Los Angeles, maar volgens 'n woordvoerder gaan sy waarskynlik dinge eers rustig vat voordat sy terugkeer werk toe.
'n Woordvoerder van die program het gesê dat hulle deur Lovato se bestuur ingelig sal word wanneer sy gereed is om terug te kom.
Lovato het vroeër erken dat sy op skool geboelie is en aan 'n eetsteurnis gely het.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters