Debute, bielies en bekendes
2012-01-04 08:15
Kaapstad – ’n Paar nie-fiksiebielies, ou bekendes wat kom met opvolgstories en ’n ongewone debuut of twee, is van die boeke wat boekwurms vanjaar kan verwag.
Bo-aan die romanlys is Elbie Lötter (die skryfnaam van Anchien Troskie) se opvolg in April by Kwela op haar opspraakwekkende debuut van 2004, Dis ek, Anna.
In Die staat teen Anna Bruwer vertel sy verder van die dogtertjie wat ons leer ken het as Stom Anna. Wat haar stiefpa aan haar gedoen het, het sy geglo, mag sy met niemand deel nie.
Dis ek, Anna was destyds ’n ongekende sukses. Die boek het 13 drukke beleef. Van die Afrikaanse weergawe is meer as 50 000 eksemplare verkoop en van die Engelse vertaling nog 15 000. In 2008 het Troskie die eerste keer haar identiteit bekend gemaak kort vóór die verskyning van haar tweede lekkerleesroman.
In September verskyn van André P. Brink by Human & Rousseau sy langverwagtePhilida, ’n slaweroman waarvoor hy die Jan Rabie-en Marjorie Wallace-skrywersbeurs in 2009 ontvang het, terwyl ’n nuwe roman van Marita van der Vyver in Oktober uitkom.
Carel van der Merwe, wat in 2010 die Eugène Marais-prys ontvang het vir Geldwolf – tóé bestempel as die eerste finansiëlemisdaadroman in Afrikaans, keer terug met Skaduwee in September by Umuzi, ’n opvolg op sy eerste roman, Nasleep.
Paul du Toit, sy hoofkarakter, moet die dogter van ’n skatryk Britse geldskieter oppas. Wanneer sy egter ontvoer word, bevind Paul hom in ’n geld- en politieke web waar die korrupsie geen einde het nie.
Die advokaat en wenner van die Universiteit van Johannesburg-prys Chris Marnewick lewer sy eerste Afrikaanse roman met Clarence van Buuren:Die man agter die donker bril (Protea).
Van Buuren is in 1957 skuldig bevind aan die moord op Joy Aken, ’n Pinetown-meisie, wie se liggaam geskend gevind is. Hoewel Van Buuren volgehou het hy is onskuldig, is bevind hy het ’n seksuele verhouding met die slagoffer gehad en is hy gehang. Marnewick het die oorspronklike dossier, wat weg was, opgespoor en probeer vasstel of ’n onskuldige man geboet het.
Die fotograaf Reney Warrington maak haar debuut as romanskrywer met Oktober, ’n boek wat terselfdertyd ’n moderne liefdesverhaal en sprokie is. Nog ’n debuut is die sportskrywer Louis de Villiers seKaapstad Karma-polisie. Geen onder 18’s nie! Lapa sien uit na die opvolg op Tussen stasies, die topverkoper Irma Joubert se debuut van 2007 oor ’n Duitse wesie wat ná die Tweede Wêreldoorlog deur ’n Afrikaanse gesin aangeneem word, en Deborah Steinmair se spanningsroman Poppekas. Lapa gaan elke maand ’n jeugroman publiseer.
Onder die nie-fiksie is ’n paar grotes, met die Bok-afrigter Peter de Villiers se lewenstorie (Zebra), Willie Esterhuyse seEindstryd by Tafelberg en Malcolm Ray se The Black Oligarchs by Random House as die uitskieters.
In Eindstryd word vertel van die ontmoetinge agter die skerms tussen ANC-leiers en ’n paar uitgesoekte Afrikaners in die tagtigerjare . Dié hoogs vertroulike gesprekke in Engeland was deurslaggewend vir die begin van onderhandelings en die oorgang in Suid-Afrika.
Die boek bevat fassinerende inligting oor onder meer geheime tronkgesprekke met Nelson Mandela, wat in P.W. Botha se situasiekamer aangegaan het, en hoe die intelligensiediens die land van grootskaalse geweld probeer “red” het deur in te gryp in die skaakspel tussen die partye.
The Black Oligarchs deur die voormalige adjunkredakteur van Finweek ondersoek die pad na rykdom van die top-ses swart oligarge in Suid-Afrika – op verskeie maniere die storie van Suid-Afrika.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger