Simon Cowell se biografie onthul sekskapades
2012-04-16 13:47
Londen – Dannii Minogue se gemoed is glo “swaar” oor bewerings in 'n nuwe biografie dat sy ‘n kort verhouding met Simon Cowell gehad het.
Die 40-jarige sanger, wat nou ‘n mode-ontwerper is, het volgens ‘n nuwe ongemagtigde biografie, Sweet Revenge: The Intimate Life of Simon Cowell, glo verskeie aande met Cowell deurgebring nadat sy in 2007 ‘n beoordelaar op sy program The X-Factor geword het.
Dannii is glo tot breekpunt gedryf toe die bewerings gemaak is kort ná haar en Kris Smith, die pa van haar 21 maande oue baba, se verhouding op die rotse geloop het.
Geen beheer
“Sy is baie ontsteld oor al hierdie [inligting] wat aan die lig gekom het terwyl sy sukkel om die verbrokkeling van haar verhouding met Kris te hanteer,” het ‘n bron gesê.
“Dit was alles so lank terug en om dit nou te hanteer ná die afgelope paar weke is net te veel. Sy is baie rou en dit is die laaste ding wat sy nou wil deurmaak.”
In die boek word die 52-jarige Simon aangehaal: “Ek was verlief op haar. Dit was Dannii se hare, die sexy klere en die borste. Ek was soos ‘n skoolseun. Sy was ‘n regte man se meisie. Baie vroulik.”
Volgens die Daily Mirror het Simon die skrywer, Tom Bower, toegang gegee tot honderde ure van sy lewe, alhoewel hy erken het hy het geen beheer gehad oor wat in die eindproduk verskyn nie.
Simon was tot dusver stil oor die situasie, behalwe vir een tweet: “Het sopas die TV-advertensie gesien vir die ongemagtigde boek oor my. Sjoe!”
– Volg Nuus24 op Twitter
- BangShowBiz