D9 steeds die topverkoper
2009-09-09 07:12
Sanri van Wyk
Johannesburg - District 9 is die tweede agtereenvolgende naweek sedert sy vrystelling die topverkoper by die Suid-Afrikaanse loket.
Dié rolprent was ook die naweek die topverkoper in Brittanje en het sowat £2,2 miljoen by die Britse loket geïn, berig Reuters.
Corlize Luttig, bemarkingsbestuurder van verspreiding van Ster-Kinekor, sê plaaslik is nou al R4,6 miljoen se kaartjies vir District 9 verkoop. Die Suid-Afrikaans gebore Neill Blomkamp is die regisseur.
Altesame R2 miljoen hiervan is onderskeidelik die eerste en tweede naweek, en sowat R600 000 gedurende die week verkoop.
Die plaaslike rolprent wat die rekord as topverkoper hou, is Leon Schuster se Mr. Bones 2, wat deur United International Pictures (UIP) Suid-Afrika versprei word.
Dié rolprent het volgens syfers wat UIP verskaf het gedurende sy openingsnaweek R6 miljoen en gedurende sy tweede naweek op die rolprentkringloop R3,4 se kaartjies verkoop. Die totale kaartjieverkope wasR35 miljoen.
Luttig sê die verkope van District 9, wat op 28 Augustus uitgereik is, oor die tweede naweek van vrystelling is 28% beter as dié van Terminator: Salvation en dubbel soveel as wat White Wedding en Tsotsi destyds in die tweede naweek van hul opening verkoop het.
Luttig sê dit is baie goed vir ’n rolprent in die wetenskapfiksie-genre dat daar feitlik geen daling in kaartjieverkope tussen die uitreikingsnaweek en die naweek daarna is nie.
“Ons is baie opgewonde hieroor, want wetenskapfiksie is nie eintlik baie gewild in Suid-Afrika nie. Die groot bywoningsyfer is ’n goeie aanduiding van District 9 se gewildheid en wys dat mense plaaslike rolprente wil ondersteun.”
Nog ’n rede vir die goeie bywoningsyfer, sê Luttig, is dat mense onder mekaar oor die rolprent praat en daarin belangstel.
- Beeld