D-dag vir Conrad Murray
2011-11-29 08:37
Los Angeles – Dr. Conrad Murray, Michael Jackson se persoonlike dokter, word oor 'n paar uur gevonnis.
Murray is vroeër vandeesmaand op ‘n aanklag van onvrywillige manslag skuldig bevind in verband met die sanger se dood.
Jackson is in Junie 2009 weens ‘n oordosis van die dwelmmiddel propofol oorlede .
Staatsaanklaers in Murray se verhoor wil hê regter Michael Pastor moet die dokter beveel om meer as $100 miljoen (sowat R854 miljoen) aan Jackson se kinders, Prince (14), Paris (13) en Blanket (9), te betaal vir die verlies wat hulle gely het.
Staatsaanklaers voer aan dat Jackson se drie kinders volgens die wet geregtig is tot vergoeding van Murray, wat verlore lone, winste en ook begrafnis-onkostes insluit.
Die staat het ‘n brief van Jackson se boedel saam met die hofdokumente ingedien wat beraam die ontslape Koning van Pop sou $100 miljoen (sowat R854 miljoen) uit sy This Is It-toer verdien.
Die staat wil ook hê Murray moet die maksimum vonnis van vier jaar tronkstraf opgelê word.
– Bang Showbiz.
– Volg Nuus24 op Twitter.