Cosatu: TopTV moet pornografiese kanale skrap
2012-01-19 09:01
Kaapstad – Cosatu dreig om sy belegging by 'n aandeelhouer van TopTV te onttrek tensy die maatskappy eis dat TopTV sy beplande pornografiese kanale skrap.
Dié dreigement is vervat in 'n brief wat Cosatu aan Collin Matjila, uitvoerende hoof van die maatskappy, gestuur het.
Cosatu sê sulke programme sal die morele standaarde in die land verlaag.
Die vakbondfederasie sê hy is ook bekommerd dat deur by 'n aandeelhouer van TopTV te belê, dit daartoe kan lei dat mense sal glo dat Cosatu pornografie goedkeur en selfs help befonds.
Die Suid-Gautengse hooggeregshof in Johannesburg het TopTV Vrydag beveel om nie sonder die toestemming van die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid (Icasa) pornografie uit te saai nie.
– RSG.
– Volg Nuus24 op Twitter.