Coertse binnekort na Wene, China
2011-09-14 07:03
Johannesburg – Die Suid-Afrikaanse sopraan Mimi Coertse, mede-stigter van Pretoria se Black Tie Ensemble in 1999, vertrek vandeesweek na Oostenryk om as beoordelaar op te tree in die internasionale sangkompetisie Classic Mania, wat in die musiekstad Wene gehou word.
Vroeg volgende maand reis hierdie sopraan na China waar sy ook as beoordelaar gaan optree in die vyfde internasionale sangkompetisie in Ningbo, “’n stad van so 20miljoen mense geleë tussen Sjanghai en Beijing,” vertel sy. Coertse, “Kammersängerin” van die Weense Staatsopera, was verlede jaar ook in Wene vir Classic Mania saam met haar landgenote en ook “Kammersänger” Johan Botha, tenoor, en Wicus Slabbert, bariton.
“Dis ’n baie intensiewe kompetisie wat oor ’n enkele naweek afgehandel word, van die Vrydag tot Sondag,” vertel Coertse.
Die kompetisie in China, wat van 9 tot 22 Oktober duur, is veel omvattender. In die afgelope sowat twee dekades het China uitmuntende operasangers opgelewer wat in talle vaste geselskappe in voorste operahuise in Europa en die VSA opgeneem is. Suid-Afrikaanse sangers is ook genooi om hulle ook vir die kompetisie in China te laat inskryf. “Agt van ons sangers is aanvaar vir die kompetisie, onder wie ook ons Black Tie-solis, die kontratenoor Jonathan Watkins,” bevestig Coertse.
Ná die Weense kompetisie keer Coertse op 26 September terug vir die Black Ties se seisoen van twee eenbedryf-operas – Mascagni se Cavalleria rusticana en Puccini se Gianni Schicchi – wat van 28 September in die Staatsteater in Pretoria opgevoer word.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld