Clover belê R30 miljoen in Aardklop
2011-07-25 15:08
Johannesburg – Die maatskappy Clover het Maandag ’n multimiljoenrandbelegging in die Aardklop Nasionale Kunstefees, wat jaarliks in Potchefstroom aangebied word, aangekondig.
Die borgskap sal oor ’n tydperk van vyf jaar strek. Dié belegging maak Clover ook een van die grootste borge van kunstefeeste.
Ten opsigte van die ooreenkoms vir die naamregte sal Clover die fees vanjaar met sowat R4,5 miljoen borg. ’n Verdere sowat R2 miljoen sal bestee word as bedryfsinvestering vir aktiwiteite en dienste wat met die fees verband hou.
“Dit was nog altyd vir Clover belangrik om in ons gemeenskappe te belê en dit maak ons besonder gelukkig om ’n bydrae te lewer tot die uitbouiing van een van Suid-Afrika se voorste feeste,” het Johann Vorster, uitvoerende hoof, van Clover gesê.
In reaksie op die borgskapsooreenkoms met Clover het Andries Vrey, uitvoerende hoof van Aardklop, gesê: “Die borgskap dui nie net op die vertroue wat in Aardklop gestel word nie, maar ook in kuns en kultuur in Suid-Afrika in die algemeen. Met Clover as naamborg het ons die geleentheid om ’n bydrae te lewer om die handelsmerk as ’n leier in die veld van die uitvoerende kunste in Suid-Afrika te vestig, terwyl ons ook Aardklop as kunstefees kan uitbou en ontwikkel."
– Volg Nuus24 op Twitter.