Clooney met humanitêre toekenning vereer
2010-07-21 20:11
Los Angeles - Die akteur George Clooney gaan by die Emmy-toekennings vereer word vir sy humanitêre pogings.
Die Internasionale Akademie vir Televisie, Kuns & Wetenskap gaan die 49-jarige akteur met sy Bob Hope-toekenning by volgende maand se seremonie vereer.
Clooney word vereer vir die spesiale TV-program Hope for Haiti, wat genomineer is vir 'n Emmy-toekenning, sy pogings om geld in te samel vir slagoffers van orkaan Katrina en bewusmaking oor volksmoord in Darfoer.
John Shaffner, voorsitter en uitvoerende hoof van die TV-akademie, sê Clooney was 'n "vanselfsprekende keuse" vir die toekenning omdat hy die mag van televisie gebruik en meer mense aangemoedig het om op te tree.
Die Bob Hope-humanitêre toekenning is in 2002 gestig.
Clooney is die vierde ontvanger van die eer en sal die toekenning by die seremonie op 29 Augustus ontvang.
Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP