Chris Brown in die sop oor dagga
2012-09-25 13:04
Los Angeles – Chris Brown het ‘n dwelmtoets gedop, maar die regter het besluit om nie sy voorwaardelike vrylating op te skort nie.
Die sanger, wat voorwaardelik vrygelaat is na hy sy eks, Rihanna, in 2009 aangerand het, het in Junie in die staat Virginia positief getoets vir die gebruik van marijuana.
Brown beweer egter dat hy die middel in Kalifornië gerook het, waar dit om mediese redes gebruik mag word. Regter Patricia Schnegg het Brown met ‘n waarskuwing vrygelaat.
Schnegg het egter Maandag ook in die hof ‘n oorsig van Brown se vordering aangevra na gerugte dat hy sy reisvoorwaardes oortree het.
“Jy is nie ‘n normale mens wat in daardie sitkamer sit nie. Nie net is jy in die openbare oog nie, maar jy is ook op voorwaardelike vrylating,” het die regter aan Brown gesê en hom aangemoedig om te dink oor hoe die publiek en sy jong ondersteuners sy dade beskou.
Rihanna het voor die verhoor aan Brown ‘n boodskap van ondersteuning gestuur, en gesê dat sy vir hom bid en hom alles van die beste toewens.
– Volg Nuus24 op Twitter
- BangShowBiz