Chris Brown het beradingsprogram voltooi
2011-01-31 18:00
Los Angeles - Die Amerikaanse R&B-sanger Chris Brown het uiteindelik 'n geweldberadingsprogram voltooi wat van hom vereis is as deel van sy straf op 'n aanklag van aanranding.
Brown het sy gewese vriendin, die sangeres Rihanna, amper twee jaar gelede aangerand tydens 'n geskil na 'n partytjie wat voor die Grammy-toekennings gehou is. Hy het skuld erken.
Regter Patricia Schnegg van die Los Angeles hooggeregshof het Brown (21) Vrydag geluk gewens nadat hy die program voltooi het.
Brown het 'n jaar lange program suksesvol voltooi as deel van sy vonnis.
Hy hoef nou nie meer elke drie maande in die hof te verskyn vir opvolgverslae nie.
Hy mag egter steeds nie nader as 100m aan Rihanna kom nie.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA