Choreograaf getuig eerste in Jackson-saak
2011-09-27 08:51
Los Angeles – Kenny Ortega, choreograaf en regisseur, sal die eerste getuie wees wat die getuiebank in dr. Conrad Murray se verhoor gaan inneem.
Murray, wat skuld ontken het op ‘n aanklag van onvrywillige manslag in verband met Michael Jackson se dood in Junie 2009, se verhoor begin Dinsdag.
Ortega, die man agter films soos Dirty Dancing en High School Musical, het saam met die Koning van Pop aan sy This Is It-film ten tyde van sy dood gewerk.
Tydens ‘n verhoor vroeër vanjaar het Ortega aan die hof gesê Murray het hom die sekerheid gegee het Jackson is gesond genoeg om op te tree.
Dít volg nadat Ortega sy kommer teenoor Murray uitgespreek het oor die Thriller-sanger se gesondheid.
Staatsaanklaers het Maandag aangekondig Ortega sal hul eerste getuie wees.
Regter Michael Pastor het intussen beveel dat Murray se prokureurs nie toegelaat sal word om beeldmateriaal van Jackson by sy konsert se mediakonferensie in Londen te wys nie.
Die verdediging het versoek om die beeldmateriaal te wys in ‘n poging om te bewys die sanger het reeds maande voor sy dood tekens van swakheid getoon. Pastor het egter bevind die beeldmateriaal is nie relevant tot die saak nie.
Murray word daarvan verdink dat hy die sterk verdowingsmiddel Propofol aan Jackson gegee het en dat dit tot sy dood gelei het.
– Contact Music.
– Volg Nuus24 op Twitter.