Chinese rolprent 'nie propaganda', sê Bale
2011-12-11 19:50
Beijing – Die Oscar-bekroonde akteur Christian Bale het Sondag 'n opkomende rolprent oor die Nanjing-slagting, The Flowers of War, deur China se bekendste regisseur, Zhang Yimou, as meer as net "anti-Japannese propaganda" beskryf.
Bale is in die rolprent te sien as 'n Amerikaanse swerwer wat 'n groep Chinese skoolmeisies en prostitute moet beskerm wat die Japannese weermag se aanslag op Nanjing probeer ontsnap.
Die Nanjing-slagting, waartydens Japannese troepe tienduisende Chinese burgerlikes gedood en verkrag het, is 'n episode uit dié twee lande se geskiedenis wat vandag nog 'n bron van tweespalt is.
Die rolprent van twee en 'n half uur, wat op 16 Desember in China begin draai, vertel die verhaal van dié slagting.
Bale, wat aan verslaggewers gesê het dat hy voor die maak van die rolprent nie veel oor dié deel van die geskiedenis geweet het nie, het gesê dis veel meer as net 'n uitbeelding van Japan se gewelddadige geskiedenis.
"Dis meer 'n rolprent oor mense en die aard van mense se reaksie op 'n krisis en hoe dit mense tot dierlike gedrag kan lei, maar ook kan inspireer om die mees edele gedrag te toon," het Bale gesê.
Bale het gesê enigiemand wat die woord "propaganda" gebruik om Zhang se rolprent te beskryf is verkeerd.
"As enigiemand so daarop reageer, dink ek nie hulle kyk goed genoeg na die film nie," het Bale gesê.
Die rolprent sal ook in Los Angeles, New York en San Francisco te sien wees.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP