Charlize vry met... Keanu?!
2010-05-06 07:08
Johannesburg – Die Suid-Afrikaans gebore ster Charlize Theron en die Hollywood-hartebreker Keanu Reeves se vryery het die VSA aan die gons.
Die sterre is in ’n intieme omhelsing in Hollywood betrap. Hulle het hul aandete met ’n drukkie en ’n paar soentjies afgesluit.
Paparazzi van TMZ.com het die sterre met ’n videokamera op die sypaadjie voor die Bouchon-restaurant in Beverly Hills afgeneem toe hulle Maandagaand saam uit was.
Dit is veral Theron se hande wat onder haar medester in The Devil’s Advocate se baadjie inglip wat die skindertonge los het.
Amerikaners is veral verbaas oor Reeves – die meeste het gedink hy is gay.
Op die videogreep kan duidelik gesien word hoe Reeves se hand oor Theron se rug gly voordat hy haar baie styf vasdruk en haar kop agteroor buig.
Die twee sê vir oulaas ’n paar woordjies aan mekaar voordat hulle afskeid neem.
Theron is die laaste paar maande enkellopend nadat sy Stuart Townsend, haar kêrel van nege jaar, die trekpas gegee het.
– Beeld