Charlize skiet rolprent in Namibië
2011-12-05 13:06
Kaapstad – Die Suid-Afrikaans-gebore aktrise Charlize Theron gaan die rolprent Mad Max 4: Fury Road volgende jaar in Namibië verfilm, het die Republikein berig.
Hoewel die Namibiese Rolprentkommissie nog nie oor veel meer besonderhede beskik nie, is heelwat inligting al in die kuberruim beskikbaar.
Volgens onderhoude wat deur internasionale media met die regisseur George Miller gevoer is, is dit ’n gedane saak dat verfilming in Maart of April volgende jaar in die Namibië gaan begin.
Ooreenkomste is glo reeds met Tom Hardy en Charlize Theron vir die hoofrolle aangegaan en toerusting vir skietwerk en tonele word reeds na Namibië gekarwei.
Namibië is in die gelukkige posisie om as rolprentstel te dien nadat Broken Hill, die gebied in Australië wat aanvanklik as stel gekies is, die meeste reën in 75 jaar gekry het.
Volgens Shirley Kariange van die Namibiese Rolprentkommissie, is hierdie gerugte net dít: gerugte. “Alle aansoeke, hetsy vir werk, visums en ander permitte moet deur ons kantoor gaan en ons gaan alles in ons vermoë doen om te verseker dat Namibiërs wat oor die nodige vaardighede beskik, die geleentheid kry om op die stel te werk.”
– Kliek hier om die volledige storie te lees.
– Volg Nuus24 op Twitter.