Charlize kuier by Evita in LA
2009-10-18 23:12
Karin Burger
Kaapstad - Tannie Evita Bezuidenhout is verlede week met haar langverlore susterskind in Hollywood herenig – niemand anders nie as Benoni se Oscar-wenner, Charlize Theron.
Tannie Evita is deur die Universiteit van Kalifornië genooi om in Pieter-Dirk Uys se produksie "Elections & Erections" te verskyn. Dié produksie is reeds met groot welslae in drie teaters in Los Angeles opgevoer.
“Ons Suid-Afrikaners is bekend daarvoor dat ons oral in die wêreld presteer, veral hier in Los Angeles. Daarom is ek so dankbaar dat my susterskind ook vanaand hier is. Skattie, waar is jy?” het tannie Evita een aand verlede week uitgeroep.
Die gehoor in die Glorya Kaufman-saal het glo opgewonde opgespring toe die gewilde aktrise op die verhoog verskyn.
Die twee Suid-Afrikaanse vroue het mekaar omhels en dadelik aan die klets geraak.
“Jy moet erken, ek was reg om jou ma te sê sy moes jou eerder Los Angeles toe bring en nié toelaat dat jy daardie pos by die destydse Ballet Transvaal aanvaar nie,” het tannie Evita geskerts.
Volgens tannie Evita het ’n foto van haar wat in die 1980’s geneem is Theron se karakter in die fliek Monster geïnspireer.
Die darling van Darling was net so nuuskierig om te hoor of Theron in die fliek oor Madiba, The Long Walk to Freedom, gaan speel. “Ja, ek gaan jóú rol vertolk,” het die antwoord gekom.
Pieter-Dirk Uys werk tans as gasprofessor by die Universiteit van Kalifornië waar hy ’n groep dramastudente touwys maak in die kuns van hoe om humor te gebruik om vrees te oorwin.
- Rapport