Charlize benoem vir Golden Globe
2011-12-16 09:00
Beverly Hills – Charlize Theron is in die pylvak vir nóg ’n gesogte toekenning nadat sy vir ’n Golden Globe benoem is.
Die benoemings vir die 69ste Golden Globe-toekennings is gisteraand hier bekend gemaak.
Theron is benoem in die kategorie vir beste aktrise in ’n komedie of musiekspel vir haar rol in die komediedrama Young Adult.
Die aktrises Jodie Foster (vir haar rol in Carnage), Kristen Wigg (Bridesmaids), Michelle Williams (My Week with Marilyn) en Kate Winslet (Carnage) ding in dieselfde kategorie mee.
Ander benoemings wat gister deur Sofia Vergara, ster van die komediereeks Modern Family, Woody Harrelson en Gerard Butler aangekondig is, sluit in die rolprent The Artist wat voorloop met ses benoemings.
Dit handel oor die era van stilfilms.
Tweede in die ry met vyf benoemings vir die beste drama is die 1960-verhaal The Help en George Clooney se The Descendants.
Ook in die ry vir beste drama is Martin Scorsese se Hugo, Clooney se politieke riller The Ides of March, Brad Pitt se bofbalkroniek Moneyball en Steven Spielberg se War Horse, ’n verhaal oor die Eerste Wêreldoorlog. Pitt is ook vir sy spel benoem.
Clooney het drie benoemings gekry, naamlik vir beste akteur in The Descendants en as regisseur en draaiboekskrywer van The Ides of March. As beste akteur kom Clooney te staan teen Ryan Gosling, ook van Ides of March.
Gosling het nóg ’n benoeming losgeslaan vir beste akteur in ’n musiekspel of komedie in Crazy, Stupid, Love.
Glenn Close is ook ’n mededinger as beste aktrise in ’n Drama vir haar rol in Albert Nobbs, en vir die beste lied en lirieke van Lay Your Head Down – die temamusiek van dié rolprent.
Angelina Jolie is benoem as regisseur vir ’n buitelandse rolprent. Sy debuteer as rolprentregisseur met dié Bosniese oorlogsdrama,In the Land of Blood and Honey.
Saam met die Screen Actors Guild Award-benoemings, help die Globes om die moontlike wenners af te skaal vir die Oscars, wat op 24 Januarie hul benoemings sal bekend maak.
Die wenners van die Golden Globes word op 15 Januarie in Hollywood aangekondig.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP