Chaka Chaka wen WEF se kristalprys
2012-01-27 08:00
Johannesburg – Die sanger Yvonne Chaka Chaka het die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) se kristalprys ontvang.
Dié prys is Woensdag in Davos, Switserland, aan haar oorhandig en pres. Jacob Zuma het haar Donderdag amptelik in ’n verklaring gelukgewens.
Die toekenning is die eerste keer in 1995 oorhandig en gaan aan kunstenaars wat hul talente gebruik om die toestand waarin die wêreld is te verbeter.
Van die vorige wenners sluit in die musikant Quincy Jones en die akteur Richard Gere.
“In vele opsigte is Yvonne Chaka Chaka ’n ware ambassadeur vir ons land, sy kultuur en sy mense.
“Ons vereer haar vir die wonderlike werk wat sy gedoen het om blootstelling te gee aan die kwaliteit van die mediese sorg en sake rondom maatskaplike ontwikkeling op die vasteland,” het Zuma vanuit Switserland gesê.
Hy woon ook die Wêreld- Ekonomiese Forum by.
“Ons is baie trots daarop dat die forum haar op dié wyse vereer het.”
Chaka Chaka is nou betrokke by gesondheidsake vir kinders en vroue in Afrika.
Zuma sê hy hoop dié toekenning inspireer meer mense in Suid-Afrika en wêreldwyd om saam met die regering te werk om veral kwessies te takel wat vroue en kinders raak.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld