Carla Bruni verbreek stilswye oor swangerskap
2011-07-17 14:45
Parys, Frankryk – Die Franse presidentsvrou, Carla Bruni, het vir die eerste keer in 'n koerantonderhoud openlik oor haar swangerskap gepraat, maar die baba se geslag bly 'n geheim.
Gerugte doen die afgelope paar maande die ronde, maar Vrydag se onderhoud met die streekdagblad Nice Matin was die eerste amptelike bevestiging van Bruni se swangerskap.
Die baba sal Bruni se tweede kind wees. Sy het in 2001 'n seun, Aurelien, saam met haar destydse minnaar, die filosoof Raphael Enthoven, gehad.
Haar 56-jarige man, Nicolas Sarkozy, het twee seuns, Pierre (26) en Jean (24) uit sy vorige huwelik met Marie-Dominique Culioli, en 'n derde seun, Louis (14), saam met sy tweede vrou, Cecilia Ciganer-Albeniz.
Berigte oor Bruni se swangerskap het in April in die Franse tydskrif Closer verskyn.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Reuters