Cage, Williams se huweliksbootjie op die rotse
2011-11-02 14:16
Los Angeles – Weston Cage, seun van die akteur Nicolas Cage wil van sy vrou, Nikki Williams, skei, en het verlede week reeds egskeidingsdokumente by die hof ingedien.
Die skinderwebwerf TMZ berig Weston het onversoenbare verskille as rede vir die verbrokkeling van hul huwelik voorgehou.
Weston en Williams is in April op ’n luukse seiljag, Confidential Lady, op die Pontchartrain-meer by New Orleans getroud. Hulle was net twee weke verloof.
Volgens Mail Online het Weston in hofdokumente gesê hulle is sedert 24 Oktober 2011 van mekaar vervreem.
Weston het in dokumente vir die hof gevra dat geen toelae aan Williams toegestaan moet word nie. Hy wil ook hê sy moet verantwoordelik gehou word om sy regskostes te betaal.
Dié kortstondige huwelik was 'n stormagtige een, met beide Weston en Williams wat al in die tronk beland het. Weston is twee keer op 'n aanklagte van huishoudelike geweld gearresteer terwyl Williams Cage met ‘n stukkende bottel op sy arm gesteek en hom ook geslaan het.
– Volg Nuus24 op Twitter.