Legendariese skrywer sterf
2012-11-23 09:15
Canberra – Die Suid-Afrikaans gebore skrywer Bryce Courtenay, wat stryde in Australië en Suid-Afrika neergepen het, het in die ouderdom van 79 gesterf.
Sy uitgewer het Vrydag gesê hy het Donderdagaand by sy huis in Canberra gesterf – twee weke nadat sy jongste roman gepubliseer is.
Courtenay het drie maande gelede aan aanhangers gesê hy het maagkanker.
"Ons wil al Bryce se familie, vriende en al sy aanhangers van oor die wêreld heen bedank vir hul liefde en hul ondersteuning aan my en die familie terwyl hy die laaste hoofstuk van sy buitengewone lewe geskryf het," het sy vrou, Christine Courtenay, en die uitgewer Penguin Books in 'n gesamentlike verklaring gesê.
Courtnenay, wat bekend is vir sy toewyding en dikwels 12 uur per dag geskryf het, het meer as 20 miljoen boeke verkoop.
Hy het in die laat 1980's begin skryf ná 'n 30 jaar lange loopbaan in die advertensiewese.
Sy eerste roman, The Power of One, wat handel oor 'n kind wat tydens apartheid in Suid-Afrika grootgeword het, was 'n treffer en meer as agt miljoen eksemplare van die boek is verkoop. Die boek is ook later tot 'n rolprent verwerk.
Courtenay, wat in armoede in Suid-Afrika gebore is, het joernalistiek in Londen studeer en in 1958 met sy eerste vrou, Benita, in Australië gaan woon.
In 1993 het sy nie-fiksie-boek April Fool's Day verskyn. Die boek handel oor die tragiese lewensverhaal van sy seun, Damon, wat tydens 'n bloedoortapping met vigs besmet is, en later gesterf het.
Courtenay het gewoonlik elke jaar 'n boek geskryf. Sy laaste roman, Jack of Diamonds, is vroeg in November gepubliseer en in dié boek groet Courtenay sy lesers.
"Dit is 'n voorreg om vir julle te geskryf en dat julle my as 'n storieverteller in jul lewens aanvaar het. Nou, wat my storie byna klaar is, kan ek slegs sê, 'Dankie. Julle was eenvoudig wonderlik'."
Courtenay word oorleef deur sy vrou, Christine, en twee seuns uit sy eerste huwelik.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Reuters