Bruni dalk in Woody Allen-film
2009-11-24 14:27
Parys - Carla Bruni-Sarkozy, die voormalige supermodel en tans die presidentsvrou van Frankryk, het ingestem om in Woody Allen se volgende film te speel.
Bruni, wat met pres. Nicolas Sarkozy getroud is, het die nuus Maandag aan die Canal+ tv-netwerk bekendgemaak.
"Hy't voorgestel dat ek in sy volgende film speel. Ek weet nie wat die rol sal wees nie, maar ek het ingestem," het die 41-jarige sangeres en liriekeskrywer gesê.
Bruni het erken dat sy nie veel van toneelspel weet nie, maar het gesê dis 'n geleentheid wat sy nie kan misloop nie.
"Eendag, wanneer ek 'n ouma is, sal ek graag wil sê ek het 'n film saam met Woody Allen gemaak," het sy geborrel.
Allen, regisseur en draaiboekskrywer, het die Franse presidentspaartjie in Junie besoek om sy nuutste film, Whatever works, te adverteer.
Op 'n vraag na wie hy in sy volgende film wil sien, het Allen gesê: "Carla Bruni, sonder twyfel! Ek's seker sy sal wonderlik wees."
- Sapa