Bruce Willis word vierde keer pa
2011-10-27 09:06
Los Angeles – Die Hollywood-ster Bruce Willis en sy vrou, die ontwerper en model Emma Heming, verwag hul eerste baba saam, het Willis se woordvoerder Woensdag gesê.
“Die paartjie is in die wolke oor die nuus en hulle sien daarna uit om die nuutste toevoeging tot hul familie te verwelkom,” het die
Die Hard-akteur se woordvoerder in ‘n verklaring gesê en Heming se swangerskap bevestig.
Die baba sal na verwagting sy/haar verskyning vroeg in 2012 maak.
Willis (56) en Heming (35) het in 2009 getrou.
Willis het reeds drie dogters saam met sy eksvrou, Demi Moore, waarvan die jongste 17 jaar oud is.
Willis het in die 1980’s bekend geword toe hy in die gewilde televisiereeks Moonlighting verskyn het.
Hy was ook te sien in films soos Pulp Fiction, The Sixth Sense, Armageddon sowel as in die Die Hard-reeks.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters