Britney ontsteld na gerugte
2009-11-09 11:31
Sydney – Die pop-ikoon Britney Spears, is ‘uiters kwaad’ oor mediaberigte wat lui dat ongelukkige aanhangers uit haar eerste Australiese konsert geloop het, omdat sy gelipsing het, het Paul Dainty, haar bestuurder gesê.
Volgens Dainty is dit die grootste klomp leuens wat hy nog ooit gehoor het, dat konsertgangers uit Vrydag se konsert gestap het omdat Spears gelipsing het.
“Ek is so woedend,” het hy Maandag aan ‘n Australiese koerant gesê.
“Ons kan kritiek neem as daar iets fout is, dit is iets waarmee jy moet saamleef. Maar om te sê mense het van die konsert uitgestorm, is absolute fabrikasie.”
“Britney is bewus van alles wat aan die gang is en is baie ontsteld,” het hy bygevoeg.
Die bestuur by Perth se Burswood Dome, waar die eerste konsert gehou was, het gesê hulle het geen klagtes van die sowat 17 000 mense gehad wie die konsert bygewoon het nie.
“Vanaf ons perspektief was die konsert ‘n reuse sukses,” het ‘n woordvoerder van Burswood gesê.
Die 27-jarige Spears tree op by 15 konserte in Australië, Perth en Melbourne, Sydney en Brisbane, as deel van haar sirkus-tema toer wat in Maart in New Orleans afgeskop het.
- AFP