Brink wen grootste skrywersbeurs
2009-12-04 10:56
Wayne Muller
Bellville - Die reeds bekroonde skrywer André P. Brink het gister op die kampus van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) die grootste beurs vir Afrikaanse skryfwerk in ontvangs geneem.
Die eerste Jan Rabie en Marjorie Wallace-beurs ten bedrae van R350 000 is aan Brink oorhandig.
“Dié toekenning beteken vir my meer as enige ander wat ek nog gekry het,” het Brink gesê.
Dit sal hom in staat stel om ’n jaar lank te fokus op die skryf van ’n nuwe roman, waarvan die voorlopige titel Philida is – ’n verhaal van die Kaapse slawegeskiedenis.
Die beurs wat vroeër vanjaar deur die UWK aangekondig is, word gefinansier uit die boedel en ingevolg die testament van die kunstenaar Marjorie Wallace en deur UWK geadministreer. Dit word voortaan jaarliks toegeken.
Prof. Brian O’Connell, UWK se rektor, het in sy verwelkomingstoespraak gesê die beurstoekenning is ’n groot dag in die kunste.
Volgens prof. Steward van Wyk, voorsitter van die department Afrikaans en Nederlands, is 92 aansoeke ontvang. Hy en die skrywers Chris Barnard en E.K.M. Dido het die aansoeke gekeur en “ná deeglike oorweging eenparig op die wen-inskrywing besluit”.
“Brink se voorlegging was besonder boeiend en interessant. Die beoogde roman verhaal die geskiedenis van die slawevroue Philida wat in die 19de eeu in die Franschhoek-omgewing gewoon het. Die omlyning van inhoud, styl en genre laat geen twyfel dat die uiteindelike produk ’n pakkende roman sal wees nie,” aldus Van Wyk.
“Die roman bou voort op Houd-den-Bek van 1982, en as fiksionalisering van ’n stuk geskiedenis behoort dit ’n belangrike toevoeging tot die slawerny-literatuur in Suid-Afrika te wees.”
Benewens die skryfwerk, sal Brink ook saamwerk aan projekte van die universiteit.
Brink het sy aanvaardingstoespraak begin deur te sê hy het nog nie herstel van die oproep wat hy twee dae tevore gekry het nie. “As skrywer hoop jy om so ’n prys te wen en dit is ’n groot aanmoeding vir jong skrywers. As ek in ag neem dat ek in die laaste kwart van my lewe is, gee die beurs my ’n hupstoot om oor die wit streep aan die einde te huppel.”
Hy meen benewens die monetêre waarde van die beurs, beteken dit vir hom veel meer dat hy nou die tyd het om voltyds te kan skryf. “My dank aan die universiteit om ’n beurs deur wonderlike vriende soos Jan en Majorie aan my te oorhandig. Ek sal getrou bly aan die geloof wat hulle in ons land gehad het.
“Hulle het vir die Sestigers ’n klein enklawe geskep wat destyds ongekend was. Daar is baie rooiwyn gedrink en idees geruil, maar altyd met die wete dat ons besig was met iets groters as onsself.”
Volgens Brink loop hy al lank met die idee vir dié roman, is die storielyn reeds klaar, en “soek (hy nou) na die binneste van die mense betrokke”.
Die verhaal is ’n familiegeskiedenis, omdat Philida ’n verhouding gehad het met een van Brink se voorsate en hulle saam drie of vier kinders gehad het.
“Dat so min opgeteken is, bewys hoe maklik dit was om in daardie omstandighede net te verdwyn. Francois Brink is gedwing om met die buurmeisie te trou, en Philida en die kinders is verkoop. Ek sou graag my lewe wou spandeer om hierdie nasate op te spoor, maar te min is gedokumenteer. Maar ’n skrywer het mos sy verbeelding.”
Brink het aan Die Burger gesê hy wou aanvanklik ’n biografie van die familieplaas skryf, maar het toe die mense leer ken.
Die roman, sê hy, sal hom sowat ’n jaar neem om te skryf en behoort in 2011 gepubliseer te word.
- Die Burger