Brangelina skenk R3 milj. aan Somalië
2011-10-10 13:48
Los Angeles – Die akteurspaar Brad Pitt en Angelina Jolie het $340,000 (sowat R3 miljoen) aan kinders in Somalië geskenk om te help met die verligting van hongersnood, berig Contact Music.
Die paartjie het die geld met behulp van hul Jolie-Pitt stigting aan die humanitêre inisiatief Just Relief Aid geskenk wat moeders help wat geen heenkome het nie.
Mohamed Dahir van die organisasie het gesê die geld sal help om die Badbaado-kamp in Mogadishu uit te brei. Ongeveer 300 vroue en kinders gaan daagliks na dié kamp vir huisvestig.
Ongeveer 29 000 kinders onder die ouderdom van vyf het glo reeds weens hongersnood in die land gesterf. Volgens die Verenigde Nasies (VN) gaan 750 000 mense binne die volgende paar maande weens hongersnood sterf.
Jolie, wat ses kinders, Maddox (10), Pax (7), Zahara (6), Shiloh (5) en die driejarige tweeling Knox en Vivienne, saam met Pitt grootmaak, het Somaliese vlugtelinge onlangs bedank omdat hulle haar inspireer om ‘n beter ouer te wees.
– Volg Nuus24 op Twitter.