Brangelina beslis nie suinig
2009-11-24 10:35
Los Angeles - Brad Pitt en Angelina Jolie is nie net een van Hollywood se mooiste paartjies nie, maar ook een van sy vrygewigste.
Volgens die glanspaartjie se belastingopgawe vir 2008 het hul welsynstigting, Jolie-Pitt, verlede jaar R51 miljoen vir liefdadigheid gegee.
Dit is meer as dubbel die bedrag wat Pitt en Jolie in 2007 aan welsynsorganisasies geskenk het.
Die stigting se grootste skenkings het gegaan aan Global Health (R15 miljoen), Human Rights Watch (R7,5 miljoen) en aan Make it Right, Pitt se stigting vir slagoffers van die orkaan Katrina.
Jolie het ook R7,5 miljoen aan Kambodja geskenk. Die aktrise het haar eerste kind in dié land aangeneem.
- Sapa-dpa