Brad Pitt: 'Ek is verkeerd aangehaal'
2011-09-16 11:01
Los Angeles – Brad Pitt beweer hy was verkeerd aangehaal in ‘n berig waarin hy oor sy lewe met sy eksvrou, Jennifer Aniston, praat.
Dié berig is Donderdag op Parade Magazine se webwerf geplaas.
Die 47-jarige Pitt sê in dié artikel hy is nou ‘tevrede’ in sy verhouding met Angelina Jolie.
Die Moneyball-ster het ook gesê sy nuwe lewe met Jolie en hul ses kinders is beter as die rowwe vyf jaar wat hy met Aniston getroud was.
“Dit het vir my duidelik geword dat ek op soek was na ‘n film oor ‘n interessante lewe, maar ek self het nie ‘n interessante lewe gelei nie,” het Pitt aan Parade gesê.
“Ek dink my huwelik aan Aniston het iets daarmee te doen gehad. Deur voor te gee die huwelik was iets wat dit nie was nie,” het hy bygevoeg.
Dié twee aanhalings is deur die media verkeerd geinterpreteer deurdat dit lyk asof Pitt bedoel Aniston was nie interessant genoeg nie.
Pitt het later ‘n verklaring uitgereik en dinge duidelik gestel.
“Dit grief my dat dinge verkeerd geïnterpreteer was. Jen is ‘n ongelooflike, liefdevolle vrou wat steeds my vriendin is. Dit is ‘n belangrike verhouding waaraan ek baie waarde heg. Die punt wat ek wou maak was nie dat Jen oninteressant was nie, maar dat ek self oninteressant geword het en dat ek self daarvoor verantwoordelik was,” het hy in die verklaring gesê.
Pitt en Aniston is in 2000 getroud en in 2005 geskei.
Alhoewel Pitt en Jolie reeds vir die afgelope vyf jaar saam is, het die akteur gesê hulle sal nie trou totdat homoseksuele huwelike wettig verklaar word nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters