Bougas wil groot eis
2012-02-02 06:56
Johannesburg – Die sanger Anthonie Bougas (20) het die ministerie van polisie in kennis gestel dat hy ’n eis van meer as R1 miljoen weens onregmatige inhegtenisneming teen die polisie gaan instel.
Dié kennisgewing aan die ministerie is nog nie ’n dagvaarding nie. Die Polisiewet vereis dat enigeen wat ’n eis teen die polisie wil instel, binne ses maande ná die voorval waaroor die eis gaan, so ’n kennisgewing aan die polisie moet stuur.
Bougas, wat ’n sangtoer by skole in die Vrystaat onderneem en sy nuwe CD, Hartsoldaat, opneem, se prokureur, Piet van Staden van Oberholzer, het Woensdag bevestig dat die kennisgewing aan die ministerie gestuur is. “Ek kry vandeesweek ’n advokaat se mening oor Anthonie se beoogde eis waarin tegniese aspekte in verband met so ’n eis deur die advokaat verduidelik sal word. Sodra ek dit ontvang het, sal ek en Anthonie praat oor die uitreiking van ’n dagvaarding.”
Die eis spruit uit Bougas se inhegtenisneming in Julie op aanklag van diefstal kort ná ’n optrede by die Laerskool Dagbreek in Carletonville. Verskeie leerlinge en onderwysers het die inhegtenisneming aanskou. Bougas het daarna gesê hy het ’n “nag van hel” saam met geharde misdadigers in die polisiesel deurgebring. Hy moes die hele nag vir hulle sing om te keer dat hulle hom misbruik.
Victor Simelane, senior staatsaanklaer, het later die klag teen Bougas teruggetrek “omdat geen getuienis gevind kon word om die klag te bewys nie”. Die klag het verband gehou met ’n video wat Bougas van ’n jong sangeres gemaak het en waarvoor sy ’n deposito betaal het. Sy het die video gekanselleer en het beweer dat Bougas nie haar deposito terugbetaal het nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld