Borsinplantings al wat model kon uitken
2009-08-23 12:22
Kalifornië - Die oorskot van ’n vermoorde model, wie se liggaam in 'n tas gevind is, was só erg vermink dat ondersoekbeamptes die reeksnommer op haar borsinplantings moes gebruik om haar te identifiseer.
Jasmine Fiore (28) se moord het tot 'n grootskaalse-soektog na 'n deelnemer aan 'n realiteitsreeks gelei.
Ryan Alexander Jenkins, 'n deelnemer in die realiteitsreeks "Megan Wants a Millionaire", word aangekla van haar moord. Hy is soek sedert Fiore op 15 Augustus as vermis aangemeld is.
Fiore se kaal liggaam is daardie oggend in ’n bloed besmeerde tas op ’n vullishoop buite Los Angeles gevind.
Owerhede kon haar vir dae lank nie identifiseer nie.
Speurders het die reeksnommer op haar borsinplantings opgevolg omdat hulle nie vingerafdrukke of dentale rekords kon gebruik nie, het Farrah Emami, ’n woordvoerder van die Orange County-distriksprokureur se kantoor, gesê.
Jenkins het na bewering na sy tuisland, Kanada, gevlug.
Fiore en Jenkins is vroeër vanjaar in Las Vegas getroud nadat hy op die VH1-realiteitsreeks verskyn het, maar volgens mediaberigte is die huwelik kort daarna nietig verklaar.
In die televisiereeks was Jenkins, ’n makelaar, een van talle mans wat deur vroue wat geld en liefde soek, uitgekyk is.
Tydens die rolverdeling vir "Megan Wants a Millionaire" het die uitsaaier VH1 gesê hulle soek enkellopende mans wat meer as $1 miljoen (sowat R7,8 miljoen) werd is.
Dié reeks word as gevolg van die ondersoek nie meer uitgesaai nie.
- Sapa