Boo! nou rof én mak
2010-10-10 21:30
Kaapstad - Boo! is terug. Makker verpak vir Durbanville; rof om die kante vir die pas afgelope Rocking the Daisies.
“Ironies genoeg,” vertel Chris Chameleon, “is Boo! een van die mees skadelose orkeste wat ek ken. Daar word nie oor seks en dwelms gesing nie en ons blaas nie geweld aan nie.
“Ek dink dis maar net sommige mense met klein hartjies wat maklik ontsteld raak. Dalk het hulle nie in die verlede die humor gesnap nie.”
Dus voer die orkes sy nuwe gehore stadig en versigtig met die “nuwe” spyse.
Vir die minder dapperes kan daar eers geluister word na die splinternuwe album Three of Us. Ander kan onmiddellik afsit na die naaste konsert.
“’n Rukkie gelede het ons in Kaapstad opgetree. Ná die tyd kom ’n bejaarde vrou na my toe en sê: ‘Ek het gedink jy gaan op ’n stoeltjie sit en sing en stories vertel, maar ek het dit nogtans geniet’.
“Dis groot vordering as mense besef ons is iets vreemds, maar hulle kan ons vertrou. Gehore is nou meer bereid om te waag.”

Hy peins oor die begindae van Boo!.
“Toe ek in my twintigs was, was ek maar onverskillig. Ek het ingeboender en nie rekening gehou met mense se sensitiwiteit nie. Nie noodwendig verkeerd nie, dalk net ’n bietjie dom.”
Boo! kán dus aanpas. In ’n konserwatiewer omgewing is daar praatjies op die verhoog om die mense te laat ontspan. In Limp Bizkit, Slipknot en Smashing Pumpkins se geselskap is dit ’n ander storie.
“’n Kombuismes kan wortels skil en dit kan iemand in die rug steek. Dieselfde mes, twee verskillende gebruike. Dis hoe ek die orkes sien.”
Chameleon is duidelik ’n perfeksionis. In al die jare op die verhoog het hy nog net een perfekte konsert beleef.
“Daar was een konsert een keer in Europa wat aan al my vereistes voldoen het.
“Dis tog ook ’n bietjie gevaarlik. As alles perfek is, raak ’n mens ook ontsenu. Of die oomblik kan te groot raak.”
Wanneer die orkes op die verhoog is, vertel hy, is hulle almal aandagvrate.
“Ons is mal oor die kollig en wil wys wat ons kan doen. Daar is niks wat ons nuwe tromspeler, Riaan van Rensburg, nie op tromme kan doen nie – en hy wys dit. Ek en Ampie Omo, nou ja, ons ook. Maar iewers in die middel ontmoet ons mekaar.”
Hoewel Boo! nou weer flink aan die gang is, gaan hy nie sy Afrikaanse musiek afskeep nie.
“Chris Chameleon is nou al deel van die Afrikaanse musieklandskap. Dit sal so bly.”
Op 19 Oktober vertrek hy na België en Nederland vir ’n toer van sewe weke.
“Vyf vertonings per week en elke aand in ’n ander dorp of stad. Ek is al baie tuis daar.
“Ek praat ook die taal vlot, maar ek maak so af en toe aspris foute sodat ek my Afrikaanse buitelandse bekoring kan behou,” spot hy.
Vir diegene wat werklik in die verkleurmannetjie se siel wil kyk, gaan luister na die lied “Prayer for my Cedar of Lebanon” op die nuwe album. Hy het dit vir ’n verlore geliefde geskryf.
“Dis die eerlikste lied wat ek nog ooit geskryf het, wat lirieke en musiek betref.”