Bono ‘weet nie eens wie Hofmeyr is’
2011-02-20 10:02
Kaapstad - In die verlede is Steve Hofmeyr al “die Boere se Bono” genoem. En die afgelope week het die plaaslike sanger van treffers soos Pampoen Bono soos ’n ou vriend om die beurt van kritiese en opbouende boodskappe via Facebook en oor die radio bedien.
Was al dié moeite van Hofmeyr die moeite werd?
Blykbaar nie.
Die hoofsanger van U2 weet nie eens wie Steve Hofmeyr is nie, het Attie van Wyk, eienaar en uitvoerende hoof van Big Concerts wat die twee U2-konserte in Suid-Afrika aangebied het, Saterdagoggend aan Rapport gesê.
Die storm wat Hofmeyr ontketen het met sy reaksie op Bono se menings oor Julius Malema en “Shoot the Boer” het glo nie daarin geslaag om Bono se aandag te trek nie.
“Bono steur hom nie aan sulke goed nie – hy weet mos wat hy gesê het en wat nie.
“U2 kry oral in die wêreld met sulke soort goed te doen waar mense vir hulself reklame wil maak. Boonop het Steve erken dit was net ’n reklamefoefie,” sê Van Wyk.
Hofmeyr het toe nooit by Vrydagaand se Kaapse konsert opgedaag nadat hy en Tim Tebeka van die radiostasie OFM van Bloemfontein af geryloop het nie.
Hofmeyr krabbel nou terug en sê dis “donners cool” dat hy, Bono en die res van Suid-Afrika almal op dieselfde bladsy is.
“Dis net Malema en die ANC wat Kill the Boer in die hof legitiem wil maak.”
Die sanger het op Facebook erken hy het nooit sy twee kaartjies ter waarde van R5 000 in die Jukskeirivier gegooi soos wat hy Maandag ewe dramaties aangekondig het nie. “Dit was ’n onbedoelde reklamefoefie vir ’n baie goed bedoelde saak. Wat presies is die probleem?”
Met sy rylopery wou hy die aandag vestig op “ons boere wat soos vlieë van die aarde af gevee word”.
Intussen is die bestuurspan van U2 is so beïndruk deur Kaapstad se Lekkerlooproete dat hulle die idee aan ander wêreldstede waar die groep gaan optree bekend gaan stel.
Volgens Van Wyk het die span Vrydagmiddag voor die Kaapse konsert die roete te voet afgelê.
“Hulle beskryf dit as een van die bes bewaarde geheime wat hulle nog op hul wêreldreise teëgekom het,” sê hy.
Van Wyk beskryf die konsert self as “absoluut asemrowend”.
Sowat 72 500 mense – 10 000 méér as by die grootste Kaapse sokkerwedstryd as deel van die Wêreldbekertoernooi verlede jaar – het die rockers gillend begroet.
“U2 se konsert is die grootste wat Big Concerts nog hier aangebied het. Ek gee Michael Jackson se HIStory-toer die tweede plek.”
Van Wyk sê hy weet nie hoe enigiemand anders so ’n konsert kan oortref of bekostig nie.
“The Claw, U2 se reuse-verhoog, is $15 miljoen (R107 miljoen) werd en al die videoskerms minstens ’n verdere $50 miljoen (R356 miljoen).”
Die Ierse groep doen 110 konserte as deel van hul 360°-wêreldtoer.
Hul toergroep bestaan uit 250 mense.
Van Wyk sê Bono en die res van U2 is gek na Suid-Afrika.
“Bono sien Suid-Afrika het ’n toekoms en hy glo ander lande kan na ons opkyk.”
Volgens Van Wyk het Big Concerts na afloop van die twee konserte in onderskeidelik Gauteng en Kaapstad net 52 klagtes gekry van die bykans 170 000 mense wat teenwoordig was.
“Dit was klagtes oor bier wat te warm was, ’n toilet wat gebreek was … daardie soort goed.”
- Rapport