Bono en vrou op Kuruman vir advertensie
2011-02-10 08:30
KAAPSTAD. – Hoogmode-handsakke van die modereus Louis Vuitton en Kuruman in die Noord-Kaap is deesdae sinoniem.
As jy ’n glanstydskrif oopmaak en die rockster Bono van U2 saam met sy vrou onder dié handelsnaam sien pryk, moet jy weet die mooi omgewing waarin hulle is, is naby Kuruman.
Bono, of te wel Paul Hewson, het verlede jaar saam met sy vrou, Ali, onder die radar deurgeglip om ’n wildplaas naby dié dorp aan te doen. Die twee was die sterre in ’n nuwe kernwaardes-veldtog van die Franse modehuis Louis Vuitton, wat deur die wêreldbekende fotograaf Annie Leibowitz geskiet is.
Volgens Gus van Dyk, eienaar van die Tswalu-natuurreservaat naby Kuruman, was die groep van sowat 12 mense wat by hulle oorgebly het, maklik om mee saam te werk.
“Ek dink hulle is almal redelik gesoute reisigers en het geen fiemies of snaakse houdings gehad nie,” het hy gesê.
Van Dyk het verduidelik dat private vlugte van Kaapstad en Johannesburg regstreeks op die reservaat se vliegveld kan land, wat dit ook makliker maak vir glanspersoonlikhede om ongesiens daar besoek af te lê.
“Ek dink die ligging het hulle presies gegee waarna hulle op soek was – ’n egte Afrika-landskap, iewers afgeleë waar hulle ongesteurd kon werk,” het hy gesê.
Die Louis Vuitton-kanaal op die video-webwerf YouTube wys beeldmateriaal van presies hoe die foto vir die advertensie self geskiet is.
’n Assistent is onder meer duidelik sigbaar waar hy stof op die skoon vliegtuigwiele blaas, vermoedelik om ’n rowwe landing te suggereer.
Bono en sy vrou, wat self die modereeks Edun besit, vertel ook op ’n ander videogreep meer oor die motivering agter die advertensie.
“Ons wil hê mense moet Afrika as ’n handelbestemming sien, en dit is hoekom ons gedink het ons moet iets op grondvlak doen, om iewers op ’n klein manier net die vlaggie te hys en te sê: ‘Moenie van hierdie vasteland vergeet nie!’”
Wins van die handsak wat Hewson in die foto dra, asook die tarief wat die twee vir so ’n advertensie sou gevra het, word vir liefdadigheid geskenk.
- Volksblad