Bollywood-ster praat oor verkragting
2013-02-21 14:00
Nieu-Delhi – Aishwarya Rai Bachchan, ‘n Bollywood-aktrise en voormalige Mej. Wêreld, het 'n beroep op owerhede gedoen om alles in hulle vermoë te doen om vroue in Indië te beskerm.
Bachchan het haar kommer uitgespreek ná ‘n voorval in Indië in Desember waartydens ‘n 23-jarige student deur ses mans op ‘n bewegende bus aangerand en verkrag is.
Die student is later weens haar beserings dood.
Die 39-jarige aktrise, een van Indië se bekendste sterre, het haar woede uitgespreek oor die manier waarop vroue in Indië behandel word.
“Daar moet bepaalde wette vir sulke misdadigers wees. Hulle moet onmiddellik gestraf word. Slegs dan sal ons ‘n verandering sien,” het Bachchan Woensdag by ‘n toekenningsgeleentheid gesê.
“Ek is nie bang nie. Ek is net verskriklik kwaad en ek is nie bang om dit te sê nie. Baie van ons is bevoorreg om te weet dat ons veiligheid verseker is, maar die meeste vroue in ons land het nie daardie voorreg nie.”
Vyf van die verdagtes in die bendeverkragting se verhoor vind tans plaas.
'n Sesde beskuldigde, wat 17 jaar oud is, sal in 'n hof vir minderjariges verhoor word.
Rai Bachchan is bekend vir haar rolle in die rolprente Mistress of Spices en Bride & Prejudice.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP