'Boeremeisie' wys haar staal in X-Factor USA
2011-11-21 07:04
Kaapstad – Een van die vier lede van die musiekgroep Lakoda Rayne wat aan die Amerikaanse realiteitsreeks The X-Factor USA deelneem, is ’n boorling van Kaapstad.
Dani Knights, oftewel Danielle van Zyl (22), is oorspronklik van Durbanville en beskryf haarself op Twitter as ’n “egte boeremeisie” en “loop kaalvoet wanneer ek kan”.
Die groep staan tans ’n kans om ’n platekontrak van $5 miljoen (sowat R41 miljoen) los te slaan.
Van Zyl het 13 jaar gelede na Minnesota in Amerika getrek toe haar pa daar werk gekry het.
“Ek droom hierdeur. Dis harde werk en min slaap,” het sy op 7 November op haar Twitter-profiel geskryf.
Van Zyl het ook gesê Suid-Afrikaanse groepe soos Goldfish, Locnville en Die Heuwels Fantasties is van haar gunstelinge.
Sy het al as ’n kinderoppasser en kelner gewerk, maar was vasberade om ’n sanger te word en het as individuele sanger ’n oudisie afgelê.
Nadat die beoordelaars haar na die volgende ronde deurgesit het, is die groep gestig. Van Zyl is die oudste lid van die groep, wat ook bestaan uit Paige Elizabeth (18), Hayley Orrantia (17) en Cari Fletcher (17). Die groep het gisteraand na die top-nege deurgedring.
Die reeks word op Saterdae om 18:00 en Sondae om 16:15 op M-Net uitgesaai.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger