Boer Vlok soek sagte vrou
2010-09-23 14:43
Kaapstad - Vir ’n man wat deur 119 briewe van vroulike bewonderaars moet sif om te kies wie hy in die Boer Soek ’n Vrou-reeks wil ontmoet, is hy vreeslik nederig.
Dis wat jou die eerste opval wanneer jy Vlok Hanekom (33) op die wingerdplaas Linton Park buite Wellington ontmoet.
Dié gebore Noord-Kapenaar praat sag, glimlag maklik en sê hy is op sy gelukkigste wanneer die mense rondom hom gelukkig is.
Hy is al die afgelope vier jaar die plaasbestuurder hier tussen die groen wingerde en beeldskone berge. En sy huis het ’n groot stoep waar daar nog lekker gekuier gaan word wanneer hy eers die regte vrou gevind het.
Vlok moet nou 10 meisies uit die meer as 100 briefskrywers kies, en dan gaan hy hulle voor die televisiekameras deurkyk om te sien of een van hulle mev. Hanekom kan word.
Maar hierdie boer het pas aan Huisgenoot bely dat hy wel soms wonder of sy eksmeisie, Charlene Engels van Keimoes, nie dalk wel sy trouvrou was nie..
Maar hy wil darem ook nie vir altyd ’n alleenloper bly nie, het hy aan Huisgenoot gesê die man met die skaam glimlag. ‘‘Al my broers en susters is getroud en het al kinders. En my ma-hulle raak nie jonger nie.’’
Lees meer hier.