Boek vertel van 'seksmal' Britney
2012-01-22 11:08
Los Angeles – Britney Spears staal haar vir die publikasie van ’n boek waarin al die seksgeheime om haar wilde eskapades uitgelap word.
’n Voormalige lyfwag, Fernando Flores (31), wat in 2010 vir die Toxic-sangeres gewerk het terwyl sy die wêreld vol getoer het, sê hy het genoeg gesien van orgies, driespel en seks met ander vroue om ’n dik boek daaroor te kan skryf.
Hy beweer hy het reeds ’n miljoendollar-kontrak met ’n uitgewer onderteken. Die boek word na verwagting in die Amerikaanse somer – dieselfde tyd dat Spears (30) die derde keer voor die kansel staan – gepubliseer.
Die sangeres en Jason Trawick (40) is sedert 2009 ’n paartjie nadat hy as haar bestuurder by William Morris Endeavor Entertainment begin werk het. Hulle het einde verlede jaar verloof geraak.
Flores het na bewering aan ’n vriend gesê Spears het ’n geweldige seksdrang.
“Daar is stories wat enigeen se hare sal laat regop staan. Op toer was daar altyd baie jong en aantreklike dansers saam met haar, mans en vroue.”
Volgens Flores het Spears-hulle baie gedrink, dwelms gebruik en stomende sessies in borrelbaddens gehad.
Hy beweer ook Spears het voor hom gespog oor die orgies wat sy al saam met ander vroue gehad het.
Flores het sy voormalige werkgewer van seksuele teistering aangekla en dié saak kom na verwagting later vanjaar weer voor.
Hy beweer sy het altyd voor hom uitgetrek en meer as een keer probeer om hom in die bed te kry.
Die Spears-kamp het intussen al Flores se beweringe ontken. – The Sun
Volg Nuus24 op Twitter
- Rapport